Ds. Rudi SwanepoelSkrywer & rubriekskrywer

Die dag toe ek skielik deel word van die Afrikaner elite

27 Jul 2026

Oorspronklik gepubliseer in Rapport 26 Julie 2026
Vir almal van ons is daar seker ‘n keerpunt, ‘n oomblik waar iéts moet gebeur, ‘n besluit geneem moet word of ‘n radikale wending onafwendbaar is.

In my geval was die keerpunt Februarie 2025, toe die 47ste Amerikaanse president aankondig dat mense soos ek (wit, Afrikaans, Suid-Afrikaans) kwalifiseer om vlugtelingstatus in die VSA te ontvang.

Voor dit was ek ‘n totale draadsitter, ‘n passievolle vermyder van die identiteitsmerker ‘Afrikaner’. Die redes? Dis ‘n té komplekse naam, die mengsel van trots en skaamte en gelaaide geskiedenis en aanmatigende aandadigheid en die blykbaar voortdurende neiging om apart te wil wees eenvoudig net (vir my) te swaar is om op te tel.

Hierdie posisie, wat ek al voorheen bekend gemaak het, het my natuurlik ‘n vermaaklike rits etikette besorg, die spitspunt sekerlik ‘self-hater’.

Nou kyk, ek is baie dinge en op baie dae haat ek myself dalk tot een of ander mate, gewoonlik wanneer ek praat voordat ek nie dink nie of nukkerig teenoor my naastes is sonder enige klaarblyklike rede.

Maar ‘n self-hatende Afrikaner is ek nie.

Nee.

Ná Februarie 2025 gebeur daar toe nog talle dinge, soos dit maar met die lewe gaan.

In hierdie omgekrapte periode vra ek myself talle kwelvrae af, sommige van hulle effens brandend.

Hoe het dit gekom dat daardie president so ver gegaan het?

Wie het toegang tot sy (en mense naby aan hom se) oor?

Watter ander magte en kragte (soos ekonomiese sake) het ‘n invloed op hierdie situasie?

Wat is die gevolg hiervan in Suid-Afrika en hoe dink en voel my mede-Suid-Afrikaners hieroor?

Wie gee hom die reg om hom te gedra soos die belangrikste mens wat ooit geleef het?

Oktober 2025.

Ek kry ‘n WhatsApp van ‘n uiters, uiters gewaardeerde vriend, ‘n landsburger, ‘n oupa, ‘n algeheel lieflike en deernisvolle mens.

Hy heg ‘n teks aan met die vraag of ek so ‘n dokument sou kon ondersteun.

Uiteindelik teken ek die ‘Nie in ons naam nie’ Afrikaner-brief heelhartig en werklik sonder om te skroom. Boonop kontak ek ‘n vriend(-in) of twee, wat uiteindelik daartoe lei dat hulle dit ook onderteken.

Wat hierop volg kon ek in my wildste drome nie voorsien het nie, hoewel ek my van tyd tot tyd verbeel dat ek ‘n patroon raaksien.

Ek is skielik deel van die elite.

Ek is ‘intellektueel’ en uit voeling met die realiteit rondom my. (Ek wens byna elke dag ek was slimmer en wyser en het meer geweet en heel gereeld is die ellende om my en in my te veel om te hanteer.)

My koffiemasjien – vir ‘n halwe sekonde sigbaar op nasionale TV - is blykbaar te duur vir ‘n predikant (geldig, want dit was ‘n geskenk van ‘n hele skare mense vir my 50ste verjaarsdag).

Ek is onsimpatiek teenoor die slagoffers van plaasmoorde en derhalwe ‘n power en ongevoelige predikant.

Ek het geen benul hoe dit voel om ‘n wit man in die Suid-Afrikaanse werkplek te wees nie.

Ek praat net en doen niks om ‘n verskil te maak nie.

Ek moet fokus op my werk as leraar en nie by politiek betrokke raak nie, wat my konfronteer met ‘n redelike dilemma, aangesien die algemene sinode van die NG Kerk (vir wie ek werk) in 2019 ‘n taakspan aangewys het om versoening tussen alle Suid-Afrikaners te bevorder. Ek is die mede-voorsitter van hierdie groep.

Ek breek af en bou niks nie. (Weer geldig, want ek het nog nie ‘n wêreldklas universiteit gebou nie, hoewel ek op ‘n baie klein manier glo dat elke daaglikse interaksie met elke mens wat my pad kruis ‘n kosbare geleentheid is om ‘n brug te bou.)

Maar ek is nie alleen nie. Saam met my kry die hele groep aanvanklike ondertekenaars ‘n rits onoorspronklike name met my persoonlike gunsteling: ‘die ondertekenaars van die bendebriefie’.

In die afgelope week word ons toe ook ekstremiste. As ons in Amerika was, sou ons waarskynlik op die lys van ‘linkse terroriste’ verskyn.

Ek vind dit ontsettend interessant dat só ‘n klein bende, besaai met talle irrelevante bejaardes met selfs meer ontoepaslike en onrealistiese idees, so ‘n groot effek kon veroorsaak.

Maar wat was dan ons sonde?

Die aantygings is nogal baie. Ons vertel hoofsaaklik blykbaar leuens (voorbeelde?) en veroorsaak verdeeldheid (onder wie?).

Ons ondersteun die ANC (of word ons deur die ANC ondersteun?).

En nog, en nog, en nog.

Ek kom agter dat ons heel grootste sonde is dat ons sáám met ons mede-landsburgers wil bou en werk aan ‘n beter land vir almal.

Ons wil nie apart (en uitgesonder) wees nie.

Dít is lyk my die doodsonde.

Intussen is daar ‘n magdom dinge wat ek in my binneste ronddra en van tyd tot tyd (bloot omdat ek nie anders kan nie) op skrif die wêreld instuur.

Soos my diepe, diepe, diepe besorgdheid oor die verhouding tussen ‘n deel van wit Suid-Afrika en ‘n deel van die wit bevolking in die VSA.

Jy weet van watter dele ek praat.

Want die (blykbaar onbeantwoordbare) vraag is dit: hoe lyk hierdie pad se bestemming?

Waar eindig dit? En hoe LYK dit daar?

Wie kan daar stem?

Wie word gehoor en wat word van jou as jy nie kan betaal om ‘n afspraak met die president te kry nie?

Hoe is jou lewe as jy ‘n vrou is?

Word daar met jou gespot as jy fisies gestremd is?

En as jy swart is?

Of as jy sou durf weier om voor die goue kalf te buig?


Rudi Swanepoel
21 Julie 2026
Johannesburg

← Skryfwerk